All¹s in Ingils!
Ek bieg, ek is self baie keer skuldig daaraan dat ek geneig is om dinge in Engels te skryf omdat ek dan dink ek sal meer mense kan bereik. Gaan ek in ‘n winkel in pak ek eers al my mooiste Engelse woorde uit net om dan na 15 minute se spartel dat die persoon met wie ek praat ook deur die Engels stuikel. Ons albei probeer om die lewe vir die ander een makliker te maak en op die ou einde maak ons dinge net moeiliker. Hierdie is natuurlik ook waar op die Internet. Ons is geneig om te dink dat ons meer lesers sal kry indien ons alles in Engels skryf. Ek kyk egter na die paar honderd besoekers op ClickKliek per dag en sien dat die soekterme wat hulle daarheen neem 90% van die tyd Afrikaans is. So het ons dan nou besluit om ‘n onderwyskundige inligtings webblad te begin met ‘n groot aantal videosnitte wat gratis afgelaai kan word deur onderwysers en ouers wat in die onderwys van hul kinders belangstel. Daar is verseker baie onderwyskundige materiaal beskikbaar in al wat ‘n taal is, maar hoeveel is daar in Afrikaans? Al hierdie videosnitte is in Afrikaans en kan gratis afgelaai word by www.dreamagineers.com/edux. Elke week sal daar nuwe snitte bykom en omdat ek werklik voel dat hierdie videosnitte weer kreatiwiteit in ons onderwyssisteem sal inbring is dit vir my lekker om deel te kan wees aan hierdie projek. Dit is natuurlik ook belangrik om terugvoer te kry van almal wat dit aflaai en dit kyk. Ek nooi u dus vandag om te gaan kyk na hierdie videosnitte en kommentaar te lewer!. Net met u hulp kan ons ‘n bron skep wat kan help om te verseker dat ons volgende generasie op ‘n meer kreatiewe manier sal kan leer. En die bonus is natuurlik dat dit nog in Afrikaans ook is.